24/7 National Hotline: 0860 163 272 | Email: info@neasa.co.za

NEASA: ’n Ontstaan uit oortuiging, gebou op beginsels
NEASA:
’n Ontstaan uit oortuiging, gebou op beginsels
NEASA: ’n Ontstaan uit oortuiging, gebou op beginsels
In 1996, teen die agtergrond van ’n land in oorgang en ’n arbeidsomgewing wat dramaties verander het, het ’n groep besigheidsleiers onder leiding van Gerhard Papenfus besef dat die stem van die werkgewer besig was om te verdwyn. NEASA (National Employers’ Association of South Africa) is gebore uit ’n diep oortuiging: dat werkgewers nie net regverdige verteenwoordiging verdien nie, maar ook dat hulle ’n sleutelrol speel in die skep van werk, die groei van die ekonomie en die bou van ’n vrye en voorspoedige samelewing.
’n Struktuur gebou vir stryd
NEASA was die eerste werkgewersorganisasie in Suid-Afrika wat nie tot ’n spesifieke sektor beperk was nie – ’n rewolusionêre wysiging van die nuwe Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995. Hierdie wet het die geleentheid geskep vir ’n organisasie wat oor sektorgrense heen namens enige onderneming sou kon optree. Vandag is NEASA steeds uniek in sy klas. Daar is geen ander werkgewersorganisasie in die land wat dieselfde omvattende, gespesialiseerde en persoonlike reeks dienste aan werkgewers bied nie.
As gevolg van die feit dat die ANC en ander rewolusionêre politieke bewegings vóór 1990 verban was, is die ‘bevrydingstryd’ deur die vakbonde gevoer en het dit gemanifisteer in ’n uiters onstuimige verhouding tussen werkgewers en hul werkers - tussen arbeid en kapitaal. Ná 1995 het daardie stryd sistemies geword. Oordrewe beskerming van werknemers, deur middel van besigheidsvyhandige arbeidswetgewing - minimumloonbeleide, ingewikkelde afdankingsprosesse en rasgedrewe aanstellingsregulasies het werkgewers toenemend gemarginaliseer. NEASA het ontstaan omdat ’n beskermende stem nodig was – een wat op werkskepping en ekonomiese realisme gegrond is. Wat as ’n visie begin het vir regsbystand aan werkgewers in die hantering van arbeidsgeskille, het vandag ontwikkel tot ’n dinamiese organisasie wat jaarliks meer as 250 000 kliëntinteraksies hanteer, wat strek oor die spektrum van die werkgewer-werknemer verhouding, vanaf die werksvloer tot in die Arbeidshof.
Deur volwaardige deelname aan kollektiewe bedinging, beleidskepping op nasionale vlak en litigasie - tot op die vlak van die Konstitusionele Hof - speel NEASA ’n onmiskenbare rol in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.
Diens wat sin maak – en impak maak
NEASA se dienste is deeglik en omvattend. Die organisasie bied arbeidsregtelike bystand, litigasie en die oplossing van arbeidsgeskille. Daarby verskaf NEASA strategiese advies rakende nakoming, beleidsrisiko’s en kollektiewe onderhandeling. NEASA tree as arbeidsregspesialis én strategiese vennoot namens sy lede op. Die organisasie verteenwoordig werkgewers by arbitrasies, KVBA-versoeningsprosesse en in die hof, help met ouditering en opleiding, en beskerm ondernemings teen skadelike regulasies wat hul vermoë tot werkskepping kniehalter. Daar is niks wat in die verhouding tussen werkgewer en werknemer gebeur waarby NEASA nie betrokke raak nie. Wanneer beleid die potensiaal het om werkgewers of die ekonomie te benadeel, tree NEASA op – deur die media, op die regbank en in die parlement.
’n Organisasie gedryf deur waardes
NEASA word deur ’n roepingsgedrewe ingesteldheid gedryf – ’n oortuiging dat elke werkgewer ’n rol speel in die bou van Suid-Afrika. Vir NEASA is diens nie net ’n funksie nie, dit is ’n roeping. NEASA is bekend vir ’n passie vir vryemarkbeginsels, ’n detailgeörienteerde benadering tot dienslewering. Ongeag die feit dat dienste op ’n nasionale vlak gelewer word, geskied dit altyd op ’n persoonlike wyse. Vir NEASA is die werkgewer nooit net ’n nommer nie. NEASA word op gesonde sakebeginsels bedryf, maar altyd met die doel om terug te ploeg in aksies, insluitend litigasie, wat skadelike wetgewing en beleide aanveg.
NEASA se kultuur weerspieël hul kernwaardes: toewyding, spesialisasie, ervaring, spandinamika en uitnemendheid. Elke aksie is gerig op impak, elke projek dra by tot ’n nalatenskap. Samewerking – daagliks en intiem – is die kern van hierdie organisasie. NEASA is gebou op ’n Christelike grondslag, met ’n afhanklikheid van God se genade as rigtingwyser en bron van krag.
In ’n wêreld waar die stem van die werkgewer dikwels stilgemaak word, kies NEASA om luidkeels te praat – met integriteit, met kennis en met ’n roeping om die toekoms te help vorm. Dié organisasie is meer as ’n teenwig teen ’n vyandige arbeidsklimaat. Dit is ’n vennoot vir elke werkgewer wat ’n nalatenskap van onafhanklikheid, volhoubaarheid, werkskepping en ekonomiese vryheid wil bou. Want wanneer werkgewers beskerm word, word werk geskep – en waar werk geskep word, floreer ’n samelewing.


%20(1).png)